Dag 6 (Alexanderbaai - Ausenkehr) 230km
Ons is lekker vroeg op en nie lank daarna nie is ons weg uit Alexanderbaai oppad na die Sendelingsdrift grenspos na Namibie. Die wind is in ons blaaie so ons ry heel lekker. Wynand probeer 'n foto met sy kamera neem maar die vibrasies van die enjin het sy eerste slagoffer ge-eis en wys slegs 'n wit skerm. Frikkie se wielslot het afgeval met die geskud en so ook my klein tripod.
Ons ry in die Richtersveld Transfrontier Park na Sendelingsdrift. Die grenspos is deur Dr. van der Walt aanbeveel - ek het sy nommer in die Weg tydskrif gekry en volgens hom is dit die mooiste grenspos in Suider Afrika en die aansluitingspaaie is uitstekend. Die amptenare is baie vriendelik maar gaan deur al ons goed, ons is die eerste mense wat die dag met die pond oor die Oranjerivier in Namibie ingaan wat met 'n motorbootenjin aangedryf word. Sodra jy oor die grens is draai jy regs en ry al langs die Oranjerivier. Ons kry lafenis van die hitte in die rivier en beweeg weer aan in Ausenkehr se rigting. Frikkie val 2 keer - die 2de keer was relatief hard en hy buig sy vurk. Ons buig hom gou reg en gelukkig is die Gerber tools ook naby.
Ons ry verder en hoor visarende se geskree in die verte. Wynand en Marcel gaan haal drinkwater by Ausenkehr se wynplaas terwyl ek en Frikkie solank ry en soek vir kampplek in die woestyn. Die uitsigtemet die sonsondergang is asemrowend, dis asof moeder natuur haar asem ophou - alles is doodstil. Ons kry 'n lekker kampplek wat redelik teen die wind beskerm is langs 'n soutpan. Die aand sien ons die mooiste sterre en word wakker van die geroep van 'n jakkals hier langs ons tente - jammer ou maat, ons het nie eens kos vir onsself nie Frikkie die "peddlar"!
Soutpanne - ons oornagplek
Dag 7 (Woestyn naby Ausenkehr - Goageb) 285km
Ons is douvoordag op on die sonopkoms af te neem, dis ongelooflik hoe die kleure elke paar sekondes verander. Ewe skielik kry ek die mense wat in Gauteng is jammer - hulle jaag nou werk toe, nie eens bewus dat die son besig is om die 'n nuwe dag in al sy glorie aan te kondig nie. Ons is werklik bevoorreg om hier te wees en besef in ons klein wereldjie die grootheid van die Skepping. Die gruispas is in uistekende toestand en gou-gou is ons by Ai-Ais. Hulle is egter toe, besig om die hele plek oor te doen - Ai-Ais het die laaste paar jare 'n slegte naam begin kry, lyk vir my nog presies toe ek daar as 'n jong lat amper 20 jaar terug daar was. Ons ry Hobas toe, ek en Marcel stop gereeld om fotos te neem en ry soos 'n maniak om op te vang. Ek Cobus) ry deur 'n dippie met die son agter my, sien nie die dik sand aan die linkerkant en en voor ek my kom kry lê ek in die sand met die stof wat my omvou. Vir 'n oomblik het ek nie 'n idee waar my fiets is nie, staan op en voel aan my ledemate, net 'n grond'burn' op my arm. seer ribbes en geen asem. Die fiets het wonderbaarlik net 'ngebuigde vurk en ons buig hom gou reguit. Net 'n entjie verder stop ons by Cannőn Roadhouse vir 'n peri-peri hoenderlewer op geroosterde brood en toebroodjies - uitstekend! Van hier ry ons Seeheim toe, die pad hou net nie op nie en die kraai gaap van die hitte, boonop het ek 'n lek in my band en moet hom elke 10km in die warm son oppomp, die 'Sludge' in my wiel seël nie die gat nie waaroor ek relatief omgekrap is.
Dalk is dit te warm...
Seeheim bestaan basies net uit 'n hotel, 'n baie mooi hotel daarby. Die 500ml Windhoek Lagers proe soos nektar en ons eet 'n teleurstellende, duur ete (wat glo hoogs deur Lonely Planet aangeskryf word as die beste geroosterde toebroodjies is Namibie - watookal, ek dink Jana Uys maak lekkerder toebroodjies... ).Ons swem lekker en is daar weg in die rigting van Goageb, die donder vang ons en ons besluit om langs die pad te slaap - ek word wakker van 'n leeu wat in die verte brul. Kleure...
...en nog kleure
Die Canyon uit die lug afgeneem
Die springbok besig om die visrivier-canyon te tem...
Dag 8 (Kampeerplek naby Goageb - Luderitz) 270km
Ons het nog nie my band geruil nie, ek het hom gisteraand weer opgepomp en hy voel nog styf, die toets sal egter op die pad wees. Die band faal die toets en ons stop by Goageb (wat basies niet uit 'n vulstasie en kroeg bestaan) om hom te ruil en sommer vol te maak vir die pad na Luderitz. Dit is verbasend maklik om die Gomoto Freedom 125cc se agterband af te haal en in 'n japtrap is ons klaar. In die kroeg speel Steve se pampoen en is oorwegend blou hoewel daar ook ander provinsies se vlae hang. Daar is 'n paar mak dassies wat daar rond hardloop, 1 van hulle is volgens die eienaar 'n geharde brandewyndrinker!
Dis 8uur en dit voel of iemand die oond op hoog gesit het, ons drink elk twee 500ml yskoue cokes, saal op in die rigting van Aus waar die wilde perde op ons wag.By Aus stop ons eers vir 'n pasty en die eienaars (2 broers) sê ons moet lemoensap koop om seker te wees van 'n sooibrand - hulle Rennies is glo naby aan hulle vervaldatum. Ons stop ook by die nuutgeboude inligtingsentrum wat heel indrukwekkend is - lyk of die regering die toerismepotensiaal raaksien.
Ons soek die perde van Aus maar hulle ontduik ons, die wind waai verskriklik sterk van voor maar die natuurskoon maak darem gedeeltelik op daarvoor. Luderitz is dood op 'n Saterdagmiddag en dit lyk amper soos die spookdorp Kolmanskop so paar kilos uit die dorp. Ons kry verblyf in die Backpackers en die eienares is so gaaf om ons klere te was - moes ons seker van 'n afstand geruik het...
Ons drink 'n bier en vertrek na Kolmanskop sonder permitte (die kantoor is reeds gesluit) en neem baie fotos, dis jammer dat die mense binne in die kamers rondloop - dit versuur die fotos. Ons ry na Shark-eiland en voel ewe skielik spyt dat ons nie die kamp opsie gevat het nie. Die wag by die hek sê dit gebeur nie baie dat dit windstil daar is nie, vandag roer daar nie 'n windjie nie!
Ons eet 'n pizza by Ritzies en sien die eerste meisie in jare! Die pizza is lekker, seker omdat die bier dit so uitstekend komplimenteer.
Dag 9 (Luderitz - brug buite Tses) 440km
Marie van die Backpackers het vroeg haar man gestuur om ons opgevoude klere aan ons terug te besorg. Ons het gou ons chain-tentioners gestel en die kettings geolie. Ons maak gou vir ons elkeen 'n lekekr sterk boeretroos en iets om te eet en is daar weg met die wind wat ons van agter aanhelp - lekker! Sonder om 1 keer te stop ry ons tot by 'n uitkykpunt (deur lekker dik sand) waar ons uiteindelik die wilde perde van Aus sien. Die storie rondom die wilde perde is interessant maar die perde is nie so indrukwekkend nie. Ons sien 'n slang in die gras (letterlik!) en neem meer foto's van die slang as van die perde. Ons sien darem ook 'n mooi gemsbok wat stof opskop in die verte.
Tussen Aus en Goageb stop ek by 'n biltongstalletjie vir lekker Namibiese droëwors en biltong. Ek sukkel egter om dit in die ry te eet en by telkens my wange raak. Die ander wag al by Goageb se vulstasie toe ek daar aangerykom, vandag is heelwat warmer as gister en ons sien 'n vreemde verskynsel: reg bo ons is 'n wolk en ons kan sien dit is besig om te reën. Hoe verder die druppels egter van die wolk beweek hoe minder word hulle en amper alles verdamp voor dit die grond tref! Ons ry verder - in die rigting van Keetmanshoop en sien 'n paar motors wat lang die pad staan wat oorverhit het. Ons Gomoto's toon egter geen sulke gedrag nie en ons kom by Keetmanshoop by 'n supermark bymekaar vir ietsie om te eet. Soos elke keer as jy stop is daar 'n bedelaar of 2 en ons plathand amper een van die mannetjies. Ons draai noord van hier in die rigting van Mariental en het nog net 1uur rytyd oor toe ons natreën net voor Keetmanshoop se padblokkade. Dit bring egter korte lafenis teen die ongenadigde hitte, ons ry Tses se kant toe, stop op 'n brug om die sonsondergang met reën en donderslae af te neem, en kry 'n sms van Wynand - hy staan by Tses sonder petrol en die dronkies van Tses teister hom. Vandaar die nuwe uitdrukking as jy by 'n onaangename plek aankom "Tses verby".
Ons ry so 30km verder en sien die storm gaan ons vang, dit is al hoogs skemer en ons besluit om by 'n brug af te trek. Die pad is besaai met die dorings, daar geplaas om 'brugslapers' uit te hou. Dit skrik ons egter nie af nie en ons maak die area in 'n japtrap skoon, net betyds om die storm te mis. Gelukkig reen dit nie hard nie, net erge donderweer (ons is immers onder 'n brug - brue is vir water bedoel :-) ). Ons slaap die aand op ons matrassies onder die brug en slaap verbasend goed.
Dag 10 (Brug naby Tses - Windhoek) 430km
Ek staan op en en bekyk my wiel: die een wat ons vervang het en die enigste een sonder sludge. Soos die geluk dit wou hê is daar 'n mooi pendoring in die middel van my loopvlag wat ek uittrek met 'n TSSSS! 'n nare geluid! Ons trek die fiets op die pad en vervang gou die band - eerste proleem opgelos...
Die 2de probleem is dat ons laag op petrol is en Gibeon het nie petrol nie. Marcel is die eerste een wat sonder petrol gaan staan maar gelukkig kom Frikkie tot die redding met die petrolkan. Net hierna kry ons 2 fietsryers van voor. Hulle name is Philipp & Valeska en ry al meer as 'n jaar aan die Afrika kontinent en hoop om voor die einde van die jaar by Kaappunt te arriveer. Dan pak hulle die volgende en volgende kontinent aan (http://www.2-play-on-earth.net/). Ek self kom tot so 30km buite Mariental voor die ponie ingee en ook 'n liter ingooi. Die laaste paar kilos voel soos 'n ewigheid en ons kan al die Wimpy ontbyt in ons helmets ruik. Die eerste ding wat ons vuilgatte bestel is natuurlik 'n Mega Wimpie koffie en gaan beter as ooit saam met die ontbyt af. Ons gooi amper 'n vloermoer oor 'n vrou wat reg onder die 'geen rook' teken 'n sigaret opsteek maar die 1ste vlak van Maslow se hierargie van benodighede neem oor.
Ons ry deur 'n padblokkade en die beamptes is baie vriendelik en wens ons 'n voorspoedige reis toe. Daar is een of ander Dessert run in Swakop en baie voertuie met motorfietse ry verby en toet vriendelik. Op 'n stadium kom 'n reuse KTM by ons verby en dit lyk of ons parkering soek. Twee draai later stop hy en trek ons af - kan nie glo ons doen die trip nie en dink ons is van ons koppe af! Hy nooi ons om by hulle te oornag in Windhoek maar ons het reeds besluit op Puccini House soos deur Philipp en Valeska aanbeveel. Ons drink ons eerste Windhoek Lager in Winhoek en gaan eet lekker Pizzas by Sardinia. Toe ons daar arriveer kom 'n dronk man daar uitgevlieg en sê hy gaan ons fietse omloop as hy daar uitloop. Marcel hou kop en stel hom gerus, ons sal op 'n ander plek gaan parkeer. Die eienares kom toe uitgeharloop en vra groot verskoning vir die man se gedrag - hy is maar 'n ou drol. Dit het natuurlik die hele restaurant se aandag getrek en die omie moes baie klein gevoel het. Die kos is voortreflik en ons gaan kruip in vir 'n welverdiende nagrus.



6 comments:
Nice one guys. Glad to see more people coming to their senses and using smaller bikes for big trips.
Will pop in every so often to see how you are getting on.
Hallo ouens!
Ek sien julle het effens afgewyk van die beplande roete deur die woestyn (Aus tot Walvisbaai via Solitaire)?
Miskien n goeie ding want daai fietsies van julle sou ernstig afgechop het in die sand!
Sterkte met dit trip!
I found this site using [url=http://google.com]google.com[/url] And i want to thank you for your work. You have done really very good site. Great work, great site! Thank you!
Sorry for offtopic
Who knows where to download XRumer 5.0 Palladium?
Help, please. All recommend this program to effectively advertise on the Internet, this is the best program!
World shippind persantine Buy phenergan RX caverta ED acai berry Cheap zofran Low price evista
[url=http://www.bettybrigade.com/]Viagra Generic Online[/url]
Post a Comment